English
Facebook You Tube
Vrystaat Kunstefees 2017

Annalize Dedekind: Voorsitter van die Vrystaat Kunstefees se bestuurskomitee en Adjunk-redakteur van Volksblad

Huis is waar jou hart is, lui die spreekwoord.As jou hart in die kunste is, het jy pas tuisgekom. Want die Vrystaat Kunstefees is waar jy hoort.

’n Tuiskoms, soos die tema van vanjaarse fees lui.

Die ryke verskeidenheid kuns in al sy vorme wat op vanjaar se kunstefees wag, gaan vir elke kunsteliefhebber inderdaad soos ’ntuiskoms voel.

Die fees bied weer soos in 2016 drie feeste in een – die hooffees, dieliteratuurfees en die vrynge, met die verskil dat dit vanjaar net groter en beter gaan wees.

Op die hooffees word die eerste keer ‘n groot aantal nuwe produksies in ko-produksie met ander feeste aangebied.‘n Debuutproduksie, ook die vlagskipteaterproduksie van vanjaar se fees, Gif / Poison / Ityhefu, wat Afrikaanse, Engelse en Xhosa gehore behoort te trek, is saam met die KKNK en die Woordfees ontwikkel. Altaar word in ko-produksie met die Innibos-fees aangebied. Dit word alles moontlik gemaak met die gewaardeerde ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teater inisiatief (NATi).

Ná die suksesvolle nooiensvaart van 2016 spog die literatuurfees vanjaar met ’n lys internasionale skrywers uit onder meer België, Nederland, Nigerië, Kanada, Roemenië, Iran, Kenia en Zambië benewens die groot name in die Suid-Afrikaanse literêre wêreld wat ook hier gaan wees. Antjie Krog is hierdie jaar se Sol Plaatje-lesing spreker; Ruda Landman gaan diskoerse oor aktuele sake lei; hulde word gebring aan afgestorwe skrywers; werksessies en demonstrasies word gehou; en by die ATKV-boeke-oase kan jy tuis voel met lekker koffie, kos en ’n boek in die hand.

Die vrynge-plaas is vanjaar baie toegankliker gemaak deurdat dit van die joolplaas na die Pluimbalsaal op die hooffeesterrein op die Kovsie-kampus skuif. Pacofs skaar hom vanjaar by dié inisiatief om opkomende kunstenaars ’n platform te bied. Hou ook die verkeerseiland aan die onderkant van die Rooiplein dop!

Die Publieke Artistieke Projek (PAP), wat verlede jaar op Hertzogpleinaangebied is, skuif na Hoffmanplein met meer ruimte en meer voete wat die kunste kan ontdek en geniet. Én gratis pap en sous!Vrywees gaan feesgangers weer met interessante lewende aanbiedings deur nuwelingkunstenaars op die feesterrein verras.

As musiek jou tuis laat voel, kan jy vir die eerste keer ’n opera op dieVrystaat Kunstefees geniet. Die suiwer klanke van plaaslike sangtalent van die Odeion Skool vir Musiek, begelei deur die FSSO (Vrystaatsesimfonieorkes), gaan met Cavalleria Rusticana in die Civic opklink.

Dit is maar net ’n proesel van die groot verskeidenheid musiekproduksies wat die sinne gaan streel en die voete laat jeuk.Bestudeer hierdie gids goed, want jy wil nie te laat agterkom jy het iets misgeloop nie.

Die Vrystaat Kunstefees verwelkom jou tuis!

 

 

 

Seniorborge & donateurs
Projekborge